Wednesday 7 November 2012

Spookhuis by die See

Het 'n interessante agtergrond. Een van my kollega's by Laerskool Lynnwood het op 'n dag met 'n stokou trekklavier by die kantoor opgedaag, met die woorde: Skryf 'n spookstorie hieroor.




Die trekklavier het ongeveer twee weke in my werkskamertjie gelê sodat ek genoeg tyd gehad het om dit te bekyk, bevoel en beruik. 'n Paar klawers het ontbreek en wanneer ek dit gedruk het, het ek 'n melancholiese geluid gehoor.

Maar toe het ek nog nie 'n spookhuis nie. Nadat ek en my man eenkeer rondgery het, het ek op hierdie huis afgekom en besluit dat dit is hoe die  spookhuis moet lyk!


Nadat ek heelwat navorsing oor Mosselbaai se nuwe ontwikkelings gedoen het, het ek Spookhuis by die See geskryf. Die manuskrip was alreeds in 2000 by Human en Rousseau se Kinder-en Jeugverhale redaktrise, maar is eers in 2003 gepubliseer.

 
Spookhuis by die See is genomineer vir die MER-Prys vir Kinder-en Jeuglektuur, maar het ongelukkig nie die prys ontvang nie. In 2009 het Spookhuis by die See se vyfde herdruk beleef. Dit is 'n voorgeskrewe leesboek vir Afrikaans Eerste Addisionel Taal Graad nege by verskeie hoërskole in die Suid-Kaap. Spookhuis by die See is opgeneem in Gedaantes en Geraamtes Omnibus 3.

 
Lees gerus waarom Wikus en Karel saam met Giepie en sy ouers Mosselbaai toe is, waarom hulle nie in die groot huis kon slaap nie, maar in die houthuid aan die rant van die dorp moes slaap. Waarom dwaal daar 'n klein wit bokkie naby die huis rond? Hoe het Wikus agtergekom dat daar iets vreemds in die huis aan die gang is? En dan is daar ook nog die geheimsinnige ou man wat die inwoners van Mosselbaai ten alle koste vermy. Hoekom? Het dit dalk iets met die trekklavier te doen wat Giepie se oom op die strand opgetel het?
 

No comments:

Post a Comment