Friday 7 December 2012

Louise Prinsloo: Onderwysgidse

Louise Prinsloo: Onderwysgidse: Onderwysgidse vir Gedaantes en Geraamtes Omnibus 1, 2 en 3 is by Human & Rousseau Uitgewers beskikbaar. Die omnibusse word met gr...

Onderwysgidse




Onderwysgidse vir Gedaantes en Geraamtes Omnibus 1, 2 en 3 is by Human & Rousseau Uitgewers beskikbaar. Die omnibusse word met groot sukses in Gr 9 Afrikaans Eerste Addisionele Taal aangebied.

Friday 9 November 2012

Louise Prinsloo: Duiwel in die Bos

Louise Prinsloo: Duiwel in die Bos: Hierdie spookstorie is die tiende en laaste storie in die Gedaantes en Geraamtes-reeks. Duiwel in die Bos is die outdyse naam vir die kosmos...

Duiwel in die Bos

Hierdie spookstorie is die tiende en laaste storie in die Gedaantes en Geraamtes-reeks. Duiwel in die Bos is die outdyse naam vir die kosmosblommetjies wat langs die Hoëvelde paaie gevind word, en daarom het ek gedink dat Duiwel in die Bos  'n beter titel vir 'n spookstorie is as Kosmosblomme.




Hierdie keer is Hoërskool Parow se o. 15A rugbyspan uitgenooi om oor die Paasnaweek aan die Francois Swart-rugbyweek in Pretoria deel te neem. Hulle gaan tuis in een van die koshuise van Affie Seuns saam met van die ander genooide skole.

Die Affies rugbyspanne word die Wit Bulle genoem. Die Hoër Tegniese Skool Middelburg is die Rooi Bulle. Die denkbeeldige o. 15A rugbyspan van Hoërskool Parow is die Windhonde. Die ander rugbyspanne kom van Pretoria Boys' High, Grey Kollege, Kearsney College en Maritzburg College.


Op aanbeveling van een van die rugbyafrigters het ek en my man een Saterdagoggend na die Mitchelin Rugbyreeks by die LC de Villiers-stadion by TUKS gaan kyk om sodoende die gees en atmosfeer by so 'n rugbyfees mee te maak. Die wonderlikste van alles was, dat almal my met die grootste geduld gehelp het.


Duiwel in die Bos was alreeds einde 2005 by die Jeugverhaalredakteur van Human en Rousseau maar is nooit as 'n enkel titel gepubliseer nie. Hoekom weet ek nie. Dit was later vir my 'n groot verleentheid omdat ek met verskeie adjunkhoofde, onderwysers en rugbyseuns oor die Francois Swart-rugbytoernooi  wat jaarliks tydens die Paasnaweek in Pretoria plaasvind, onderhoude gevoer het. Almal wou weet wanneer kan hulle die rugbystorie lees. Die een adjunkhoof is intussen as skoolhoof by 'n ander hoërskool aangestel, die seuns was al op universiteit, maar nog geen spoor van 'n gepubliseerde Duiwel in die Bos nie!  En intussen is die straatname van Pretoria ook verander!

Hier is 'n paar foto's wat ek op die terreine van Afrikaans Hoër Seunskool en Pretoria Boys' High School geneem het. 

Die vierkant van Affies, een van die lang stoepgange en een van die rugbyvelde.



 
Die tonnel onderdeur die treinbrug naby Affies waar Wikus iets vreemds opgemerk het.




Plekke waar ek gedink het 'n spook sal ronddwaal!



Ek staan tussen die gras op die terrein van Pretoria Boys' High School.


Uiteindelik, sewe jaar later, in 2012, is Duiwel in die Bos in Gedaantes en Geraamtes Omnibus 3 opgeneem.

Lees gerus waarom Pote en Mia nooit tot rus sal kan kom nie.




Wednesday 7 November 2012

Spookhuis by die See

Het 'n interessante agtergrond. Een van my kollega's by Laerskool Lynnwood het op 'n dag met 'n stokou trekklavier by die kantoor opgedaag, met die woorde: Skryf 'n spookstorie hieroor.




Die trekklavier het ongeveer twee weke in my werkskamertjie gelê sodat ek genoeg tyd gehad het om dit te bekyk, bevoel en beruik. 'n Paar klawers het ontbreek en wanneer ek dit gedruk het, het ek 'n melancholiese geluid gehoor.

Maar toe het ek nog nie 'n spookhuis nie. Nadat ek en my man eenkeer rondgery het, het ek op hierdie huis afgekom en besluit dat dit is hoe die  spookhuis moet lyk!


Nadat ek heelwat navorsing oor Mosselbaai se nuwe ontwikkelings gedoen het, het ek Spookhuis by die See geskryf. Die manuskrip was alreeds in 2000 by Human en Rousseau se Kinder-en Jeugverhale redaktrise, maar is eers in 2003 gepubliseer.

 
Spookhuis by die See is genomineer vir die MER-Prys vir Kinder-en Jeuglektuur, maar het ongelukkig nie die prys ontvang nie. In 2009 het Spookhuis by die See se vyfde herdruk beleef. Dit is 'n voorgeskrewe leesboek vir Afrikaans Eerste Addisionel Taal Graad nege by verskeie hoërskole in die Suid-Kaap. Spookhuis by die See is opgeneem in Gedaantes en Geraamtes Omnibus 3.

 
Lees gerus waarom Wikus en Karel saam met Giepie en sy ouers Mosselbaai toe is, waarom hulle nie in die groot huis kon slaap nie, maar in die houthuid aan die rant van die dorp moes slaap. Waarom dwaal daar 'n klein wit bokkie naby die huis rond? Hoe het Wikus agtergekom dat daar iets vreemds in die huis aan die gang is? En dan is daar ook nog die geheimsinnige ou man wat die inwoners van Mosselbaai ten alle koste vermy. Hoekom? Het dit dalk iets met die trekklavier te doen wat Giepie se oom op die strand opgetel het?
 

Tuesday 6 November 2012

Louise Prinsloo: Die geeste van die Amathole

Louise Prinsloo: Die geeste van die Amathole: Die geeste van die Amathole is die 9de titel in die Gedaantes en Geraamtes-reeks spookstories maar is nooit as 'n enkel boek gepubliseer nie...

Die geeste van die Amathole

Die geeste van die Amathole is die 9de titel in die Gedaantes en Geraamtes-reeks spookstories maar is nooit as 'n enkel boek gepubliseer nie. Waarom, weet ek nie. Die verhaal was al in 2006  by die uitgewers, maar is eers in 2009 in die Gedaantes en Geraamtes Omnibus 2 opgeneem.


Die geeste van die Amathole speel af in die Oos-Kaap in die skaduwee van die Amathole berge. In Xhosa beteken Amathole 'n kalfie. In vergelyking met die Drakensberge is die Amathole 'n kalfie.

My man moes in 2004 King William's Town in die Oos-Kaap toe gaan vir werk. Ek was bevoorreg om saam met hom te kon gaan. Omdat heksuitruikery en hekseverbanding nog steeds in ons moderne tyd plaasvind en die Oos-Kaapse koerante destyds vol was van 'n jong vrou wat as 'n heks uitgeruik en verbrand is, het ek besluit om dit in die storie te gebruik.

Lees gerus Die geeste van die Amathole om uit te vind wat het met Wikus gebeur toe hy 'n werwelbeentjie opgetel en in sy sak gesteek het.

Wie is die geheimsinnige Xhosa-meisie wat Wikus se aandag probeer trek? En waarom doen sy dit?

Hoe kan Wikus haar help?


Wikus, Karel en Giepie is saam met die res van die o.15A-krieketspan uitgenooi om aan die  krieketkliniek van Dale College in die eerste week van Desember deel te neem. Hulle noem hulself die Parow Sparrows. Dale College is in King William's Town. Die skole wat betrokke is by die denkbeeldige krieketkliniek is: Selbourne College, Stirling High en Bisho High.


Bedags wanneer my man op kantoor was, het ek King William's Town verken as deel van my navorsing. Ek het die plaaslike biblioteek asook die Sendingmuseum besoek waar Eerwaarde Brownlee se Bybel en ander besittings uitgestal word.



Ek het hierdie wildevyenboom afgeneem aangesien dit vir my die spokerige atmosfeer van die storie gepas het. Dit is dan ook by hierdie boom dat Wikus 'n werwelbeentjie uit die grond uitgrawe.




Ek het oa die Amatholemuseum besoek, waar die opgestopte karkas van Huberta, 'n legendariese seekoei staan. Huberta het 1, 000 kilometer van Natal tot in die Oos-Kaap geloop en langs die pad landerye en groentetuine geplunder. In 1930 is sy deur 'n boer van King William's Town doodgeskiet, wat 'n wye reaksie ontlok het. Die oorgroot meerderheid mense was kwaad vir die boer, terwyl ander gesê het dat sy te veel skade aangerig het.



Een Saterdag het Daan my so 'n bietjie rondgeneem.



Lees gerus Die geeste van die Amathole om uit te vind wat het met Wikus gebeur toe hy 'n werwelbeentjie opgetel en in sy sak gesteek het.

Wie is die geheimsinnige Xhosa-meisie wat Wikus se aandag probeer trek?

Monday 5 November 2012

Louise Prinsloo: Skimme van Gister

Louise Prinsloo: Skimme van Gister: Skimme van Gister is die 6de titel in die Gedaantes en Geraamtes-reeks spookstories geskik vir kinders tussen 10 - 12, maar jonger lesers ge...

Skimme van Gister

Skimme van Gister is die 6de titel in die Gedaantes en Geraamtes-reeks spookstories geskik vir kinders tussen 10 - 12, maar jonger lesers geniet dit ook, sowel as volwassenes.

Wikus wen 'n pastelskets as troosprys by Hoërskool Parow se veerpyltjiekompetisie. Dit is in 1956 deur 'n VM geskets. Aanvanklik is Wikus teleurgesteld, maar hoe langer hy na die pastelskets kyk, hoe meer kry die witgekalkte huis met 'n strooidak en gewel, vir hom karakter. Dit lyk vir hom asof die groengeverfde voordeur enige tyd kan oopswaai.


 
 
Voordat ek Skimme van Gister begin skryf het, het ek baie nagelees oor hipnose en selfs 'n kliniese sielkundige besoek wat hipnose op haar pasiënte uitoefen, met hulle toestemming, natuurlik om te probeer uitvind wat in hulle verlede gebeur het. Sy het my van waardevolle inligting voorsien wat ek in Skimme van Gister gebruik het, bv die egalige getik van Wikus se staanwekker op sy bedkassie wat hom gehipnotiseer het elke keer wanneer hy stip na die groengeverde voordeur staar.

Dit voel later vir Wikus asof die pastelskets hom wil intrek en deel maak van gebeurde waar iets nie lekker pluis is nie.

Skimme van Gister is in Gedaantes en Geraamtes Omnibus 3 opgeneem. Lees gerus op bladsy 77 of Wikus die raaisel van die hartseer vrou in sy stoel sal kan oplos. En wat Karel en Giepie gaan doen om hom te help.

Die illustreerder van die idividuele boeke, Angus McBride, het geëmigreer en kon dus ongelukkig nie die Omnibusse illustreer nie. Janine Henning het die illustrasies van al drie die omnibusse op haar rekenaar gedoen en nie per hand, soos Angus McBride nie.




Die Osirisraaisel

Die Osirisraaisel is die vyfde titel in die Gedaantes en Geraamtes-reeks spookstories. Die Osirisraaisel het in1997 verskyn en handel oor bygelowe. 

Wie het nog nie byvoorbeeld van Vrydag die 13de gehoor nie? Of dat 'n hotel nie 'n kamer 13 het nie, maar 11, 12, 14, 15?


Daar moet altyd 'n rede wees waarom 'n persoon na sy dood nie tot rus kan kom nie. Lees waarom die klerekas so bekrap was met allerhande simbole en syfers om die spook of afgestorwe gees weg te hou.

Min het Wikus, Karel en Giepie kon raai op watter paaie die kas wat Wikus se ouma vir hom op 'n vendusie gekoop het, hulle sou neem.



Die Osirisraaisel is as die tweede verhaal in Gedaantes en Geraamtes Omnibus 2 opgeneem.



Louise Prinsloo: Droomkamer op Donkerhoek

Louise Prinsloo: Droomkamer op Donkerhoek: Droomkamer op Donkerhoek is die vierde titel in die Gedaantes en Geraamtes-reeks spookstories geskik vir 10 - 12 jariges. Donkerhoek is 'n d...

Dwaalgees van Duiwelskantoor

Dwaalgees van Duiwelskantoor is die sewende titel in die reeks Gedaantes en Geraamtes-spookstories. Hierdie boek het van die rakke gevlieg, maar om een of ander duistere rede, is dit nooit herdruk nie.

In hierdie verhaal gaan al die graadneges op 'n geskiedenistoer. Wikus, Karel, Giepie en hulle groep gaan na Kaapschehoop met Chané as hulle groepleier. Sommer op pad daarheen kom Wikus alles is nie pluis nie, veral nadat hy 'n ruiter in die ou NZASM-tonnel gesien het.  Maar toe hulle in die Royal Hotel gaan slaap omdat die gastehuis vol is, begin die poppe dans.



My man moes 'n week in Nelspruit gaan werk, maar het in die Silver Mist Gastehuis op Kaapschehoop in Mpumalanga tuisgegaan. Hy het dit vreeslik geniet en toe hy weer Nelspruit toe moes gaan, neem hy my saam. Toe die eienares van die gastehuis hoor ek skryf stories, vra sy dat ek iets oor Kaapsche Hoop moet skryf, op voorwaarde dat dit nie in die gastehuis spook nie! Aangesien daar omtrent geen inligting oor Kaapschehoop beskikbaar was nie, moes ek baie navorsing doen.

Kaapschehoop het tydens die goudstormloop as Duiwelskantoor bekendsgestaan aangesien een van die landmeters gesê het: Net die duiwel kan hier bly, so ruig en onwoonbaar is die plek. Daar is ook foto's van die amptelike opening van El Diablo of Duiwelskantoor. Die Kerk het egter beswaar aangeteken en die naam is verander na Kaapschehoop.



Hier staan ek op die eskarp wat uitkyk oor die vallei. Let op hoe mistig dit is. Die delwers het gehoop om goud te kry op die berg wat soos Tafelberg met sy miswolke lyk - vandaar die naam Kaapschehoop. Soms word die naam Kaapsche Hoop gespel.



Die gastehuis op Kaapschehoop wat eens op 'n tyd die poskantoor en winkel was


 
Een van die oorspronklike kliphuise op Kaapschehoop
 
 
 
 
 

Die sonlig skyn deur 'n skeur van 'n ou klipmurasie op Kaapsche Hoop. Let op na die wasigheid op die linkerkant van die foto. As jy jou verbeelding rek, sal jy dalk glo dat dit 'n afgestorwe gees is!


Links is 'n foto van 'n lid van die ZARP - Zuid- Afrikkaansche Republiek Politie. Kaptein Ziervogel van die ZARP moes elkee jaar die inkomstebelasting van die delwers insamel en na Lydenburg te perd neem. Dit was 'n tydrowende en gevaarlike werk aangesien struikrowers die koetse en ruiters voorgelê en beroof het.

Regs op die foto is die begraafplaas waar delwers en inwoners van Kaapschehoop begrawe is.


Lees gerus die Dwaalgees van Duiwelskantoor wat in Gedaantes en Geraamtes Omnibus 2 opgeneem is en vind uit waarom Kaptein Ziervogel, sy perd en sy hond op Kaapschehoop dwaal. En hoe Wikus hulle tot rus laat kom het.



Gedaantes en Geraamtes Omnibus 2 is verkrygbaar by Exclusive Books, Graffi-Books, E-Books by Lynnridge Mall Lynnwoodrif asook Protea Boekwinkel in Hatfield Pretoria, Potchefstroom, Nelspruit (Mbombela) en Stellenbosch.

Droomkamer op Donkerhoek

Droomkamer op Donkerhoek is die vierde titel in die Gedaantes en Geraamtes-reeks spookstories geskik vir 10 - 12 jariges. Donkerhoek is 'n denkbeeldige landgoed in die Kaap, nie ver van Bloubergstrand af nie.




In hierdie verhaal moet die drie maters Giepie se tant Nelda oor die langnaweek op Donkerhoek moet gaan oppas. Nog voordat die drie seuns in die kelder gekom het, was hulle dadelik gefassineer met die interessante ou huis, weggesteek tussen somber bome. Karel wou onmiddellik net fotostudies doen. Wikus het besef dat die hoefyster, weerhaan en bossie knoffel dalk 'n aanduiding van spookbedrywighede op Donkerhoek kan wees. Maar dis eers toe hy in die dakkamertjie slaap en vreemde drome kry, dat hy besef dat iets ongewoons op Donkerhoek aan die gang is.

Voordat ek hierdie verhaal geskryf het, het ek heelwat navorsing oor drome, die Slag van Bloubergstrand en die vrylating van die slawe aan die Kaap gedoen.

Die illustreerder, Angus McBride se bandsillistrasie, is uitmuntend gedoen.

Lesers wat die ander titels in die reeks geniet het, sal Droomkamer op Donkerhoek verslind.

Droomkamer op Donkerhoek is die vierde verhaal wat in Omnibus 1 opgeneem is.




Koop gerus Gedaantes en Geraamtes Omnibus 1 en geniet die eerste vier spookstories van die Gedaantes en Geraamtes-reeks!






Skaduwee op Siwet

Skaduwee op Siwet is die derde titel in die Gedaantes en Geraamtes-reeks spookstories. 



Prof Pieta, Wikus-hulle se buurman, het vir hom 'n huis in die Bosveld van die destydse Oos-Transvaal, nou Mpumalanga, voetstoots gekoop. Die huis is deel van Siwet,  'n vakansiedoprie, naby Hazyviewe en nie ver van die Kruger Wildtuin af nie. Trouens, Numbi-hek is maar enkele kilometer daarvandaan.

Ons het dikwels in Numbi-park gaan vakansiehou, maar omdat ek nie die bestaande dorpie se naam wou gebruik nie, het ek dit Siwet genoem. 'n Siwet is 'n klein katagtige nagdiertjie, die gee.  Civettictis cevetta, wat tot die orde van Carnocora behoort.

 
Min het hulle geweet dat dekades gelede, met die goudstormloop, het 'n pa en sy seun, Gotlieb en Joachim van Zijl, met Joachim se mak siwet, oor daardie gebied na Pelgrimsrus gereis. Joachim het malaria opgedoen en gesterf. Sy troeteldiertjie het hom doodgetreur. Gotlieb was  vyftien toe hy oorlede is en nou jaag sy afgestorwe gees, 'n skaduwee, al die jong seuns weg.
 
Lees gerus Skaduwee op Siwet in Omnibus 3 om uit te vind hoe Wikus die poltergees tot rus laat kom.
 
In Geheim van Groukatlaagte was daar 'n spookperd; in Stem in die Trommel was daar 'n spookseemeeu en in Skaduwee op Siwet is daar 'n spooksiwet.
 
 













Sunday 4 November 2012

Die Stem in die Trommel

Ek het gedink dat Die Geheim van Groukatlaagte gaan en eerste en enigste spookstories wees, maar toe vra Human en Rousseau my om 'n reeks spookstories te skryf. Die tweede titel in die reeks Gedaantes en Geraamtes, is Stem in die Trommel en speel af op Jongensfontein aan die Suid-Kaap.  Nadat ons op Jongensfontein gaan vakansiehou het, het ek Die Stem in die Trommel geskryf.

Nadat ek so 'n bietjie navorsing oor die skeepswrakke van Suider-Afrika in ons plaaslike biblioteek gedoen het, het ek op die volgende stukkie waardevolle ingligting in Shipwrecks and Salvage in South Africa afgekom. Die Soares-wrak van 1505 was eerste aangetekende skip aan die Kaapse kus teen die rotste geloop het. Al wat van die wrak oorgebly het, was 'n geraamte en 'n mas. En dáár besluit ek om dit as vertrekpunt van my tweede spookstorie te maak. Ek gebruik toe my skrywersvryheid en laat die skeepstrommel met die getye en seestrome meegesleur word tot waar die tussen die rotse anderkant die Aasbankies, wat net met springgety sigbaar is, vassit. En wie anders as Wikus sal die trommel raaksien?



 

Dit het egter nog méér navoring geverg. Kortliks die geskiedenis agter die skeepswrak. De Mendonca was kaptein van die karveel wat in 1504 saam met 'n vloot van dertien Portugese vaartuie onder aanvoering van Lopo Soares d'Albergaria vanaf Lissabon op 'n ekspedisie na Kalikoet vertrek om dit te gaan bombardeer. In 1505 is hulle terug na Lissabon, maar in die nag van 22 April, het De Mendonca se skip op die rotse net wes van Mosselbaai gestrand.

Toe duik daar verdere vrae op. Wat was in die skeepstrommel?  En waarom?

Stem in die Trommel is in 2007 as die tweede spookstorie Gedaantes en Geraamtes Omnibus 1 opgeneem. Lees gerus Omnibus  1 en vind uit!



Saturday 3 November 2012


Die Geheim van Groukatlaagte is die eerste titel van die Gedaantes en Geraamtes-reeks spookstories. Hierdie boek is in 1995 met die ATKV-prys bekroon.




Wikus is die blondekop, wat alles van spoke en hul dinge weet. Hy het ook nie 'n banghaar op sy kop nie. Oral waar hy kom, is daar of 'n dwaalgees of 'n poltergees wat hy tot rus moet laat kom. Karel is die swartkop met die kamera oor sy skouer. Hy neem elke keer per ongeluk die afgestorwe gees af. Giepie is die slim, bang seun wat nie altyd weet of hy Wikus, wat glad met die mond is, kan glo nie.
Al drie die seuns is in Gr 9 Parow Hoërskool. Hulle speel krieket en rugby. Al die kinders tussen die ouderdomme van 10 - 12 jaar sal hierdie reeks spookstories terdeë geniet.

Die Geheim van Groukatlaagte is in Gedaantes en Geraamtes Omnibus 1 opgeneem.  Lekker lees!

Nadat ek, my man en drie dogters by sy neef, Japie Louw, in Williston in die Groot Karoo gaan kuier en 'n ou verwaarloosde kliphuis in die veld gesien het, het ek besluit om my eie spookstorie te skryf. Maar omdat ek niks van spoke af geweet het nie, het ek vir twee jaar navorsing oor spoke gedoen deur boeke, byvoorbeeld Ghosts onder redaksie van Peter Brookesmith en Ghosts and how to see them geskryf deur  Peter Underwood President van die Britse Ghost Club; onderhoude met mense gevoer wat beweer dat hulle al spoke gesien het, op 'n middernagtelike spooktoer gegaan en selfs 'n sogenaamde spookhuis besoek, en tot die gevolgtrekking gekom dat daar baie soorte spoke of  afgestorwe geeste is wat nie tot rus kan kom nie. Daar is Landspoke; Seespoke en Lugspoke. Landspoke kan weer onderverdeel word in gedaantes, dwaalgeeste, poltergeeste en verskynings.
In die Geheim van Groukatlaagte, is Annatjie, die dwaalgees wat nie tot rus kan kom nie.

Thursday 1 November 2012

Gedaantes en Geraamtes

Die Gedaantes en Geraamtes Omnibus 3 het pas by Human en Rousseau verskyn.  Dit is geskik vir Afrikaans Eerste Taal Gr 5, 6 en 7. Asook Afrikaans Eerste Addisionele Taal Gr 9


Monday 8 October 2012

LOUISE PRINSLOO Interesting and Usefull Links

LOUISE PRINSLOO Interesting and Usefull Links

Karoo

Ons het die voorreg gehad om verlede week deur die Groot Karoo na Yzerfontein aan die Kaapse Weskus te reis. Ek deel graag hierdie foto's met my medebloggers en hoop julle geniet die reis!