Monday 5 November 2012

Dwaalgees van Duiwelskantoor

Dwaalgees van Duiwelskantoor is die sewende titel in die reeks Gedaantes en Geraamtes-spookstories. Hierdie boek het van die rakke gevlieg, maar om een of ander duistere rede, is dit nooit herdruk nie.

In hierdie verhaal gaan al die graadneges op 'n geskiedenistoer. Wikus, Karel, Giepie en hulle groep gaan na Kaapschehoop met Chané as hulle groepleier. Sommer op pad daarheen kom Wikus alles is nie pluis nie, veral nadat hy 'n ruiter in die ou NZASM-tonnel gesien het.  Maar toe hulle in die Royal Hotel gaan slaap omdat die gastehuis vol is, begin die poppe dans.



My man moes 'n week in Nelspruit gaan werk, maar het in die Silver Mist Gastehuis op Kaapschehoop in Mpumalanga tuisgegaan. Hy het dit vreeslik geniet en toe hy weer Nelspruit toe moes gaan, neem hy my saam. Toe die eienares van die gastehuis hoor ek skryf stories, vra sy dat ek iets oor Kaapsche Hoop moet skryf, op voorwaarde dat dit nie in die gastehuis spook nie! Aangesien daar omtrent geen inligting oor Kaapschehoop beskikbaar was nie, moes ek baie navorsing doen.

Kaapschehoop het tydens die goudstormloop as Duiwelskantoor bekendsgestaan aangesien een van die landmeters gesê het: Net die duiwel kan hier bly, so ruig en onwoonbaar is die plek. Daar is ook foto's van die amptelike opening van El Diablo of Duiwelskantoor. Die Kerk het egter beswaar aangeteken en die naam is verander na Kaapschehoop.



Hier staan ek op die eskarp wat uitkyk oor die vallei. Let op hoe mistig dit is. Die delwers het gehoop om goud te kry op die berg wat soos Tafelberg met sy miswolke lyk - vandaar die naam Kaapschehoop. Soms word die naam Kaapsche Hoop gespel.



Die gastehuis op Kaapschehoop wat eens op 'n tyd die poskantoor en winkel was


 
Een van die oorspronklike kliphuise op Kaapschehoop
 
 
 
 
 

Die sonlig skyn deur 'n skeur van 'n ou klipmurasie op Kaapsche Hoop. Let op na die wasigheid op die linkerkant van die foto. As jy jou verbeelding rek, sal jy dalk glo dat dit 'n afgestorwe gees is!


Links is 'n foto van 'n lid van die ZARP - Zuid- Afrikkaansche Republiek Politie. Kaptein Ziervogel van die ZARP moes elkee jaar die inkomstebelasting van die delwers insamel en na Lydenburg te perd neem. Dit was 'n tydrowende en gevaarlike werk aangesien struikrowers die koetse en ruiters voorgelê en beroof het.

Regs op die foto is die begraafplaas waar delwers en inwoners van Kaapschehoop begrawe is.


Lees gerus die Dwaalgees van Duiwelskantoor wat in Gedaantes en Geraamtes Omnibus 2 opgeneem is en vind uit waarom Kaptein Ziervogel, sy perd en sy hond op Kaapschehoop dwaal. En hoe Wikus hulle tot rus laat kom het.



Gedaantes en Geraamtes Omnibus 2 is verkrygbaar by Exclusive Books, Graffi-Books, E-Books by Lynnridge Mall Lynnwoodrif asook Protea Boekwinkel in Hatfield Pretoria, Potchefstroom, Nelspruit (Mbombela) en Stellenbosch.

No comments:

Post a Comment