Friday 9 November 2012

Duiwel in die Bos

Hierdie spookstorie is die tiende en laaste storie in die Gedaantes en Geraamtes-reeks. Duiwel in die Bos is die outdyse naam vir die kosmosblommetjies wat langs die Hoëvelde paaie gevind word, en daarom het ek gedink dat Duiwel in die Bos  'n beter titel vir 'n spookstorie is as Kosmosblomme.




Hierdie keer is Hoërskool Parow se o. 15A rugbyspan uitgenooi om oor die Paasnaweek aan die Francois Swart-rugbyweek in Pretoria deel te neem. Hulle gaan tuis in een van die koshuise van Affie Seuns saam met van die ander genooide skole.

Die Affies rugbyspanne word die Wit Bulle genoem. Die Hoër Tegniese Skool Middelburg is die Rooi Bulle. Die denkbeeldige o. 15A rugbyspan van Hoërskool Parow is die Windhonde. Die ander rugbyspanne kom van Pretoria Boys' High, Grey Kollege, Kearsney College en Maritzburg College.


Op aanbeveling van een van die rugbyafrigters het ek en my man een Saterdagoggend na die Mitchelin Rugbyreeks by die LC de Villiers-stadion by TUKS gaan kyk om sodoende die gees en atmosfeer by so 'n rugbyfees mee te maak. Die wonderlikste van alles was, dat almal my met die grootste geduld gehelp het.


Duiwel in die Bos was alreeds einde 2005 by die Jeugverhaalredakteur van Human en Rousseau maar is nooit as 'n enkel titel gepubliseer nie. Hoekom weet ek nie. Dit was later vir my 'n groot verleentheid omdat ek met verskeie adjunkhoofde, onderwysers en rugbyseuns oor die Francois Swart-rugbytoernooi  wat jaarliks tydens die Paasnaweek in Pretoria plaasvind, onderhoude gevoer het. Almal wou weet wanneer kan hulle die rugbystorie lees. Die een adjunkhoof is intussen as skoolhoof by 'n ander hoërskool aangestel, die seuns was al op universiteit, maar nog geen spoor van 'n gepubliseerde Duiwel in die Bos nie!  En intussen is die straatname van Pretoria ook verander!

Hier is 'n paar foto's wat ek op die terreine van Afrikaans Hoër Seunskool en Pretoria Boys' High School geneem het. 

Die vierkant van Affies, een van die lang stoepgange en een van die rugbyvelde.



 
Die tonnel onderdeur die treinbrug naby Affies waar Wikus iets vreemds opgemerk het.




Plekke waar ek gedink het 'n spook sal ronddwaal!



Ek staan tussen die gras op die terrein van Pretoria Boys' High School.


Uiteindelik, sewe jaar later, in 2012, is Duiwel in die Bos in Gedaantes en Geraamtes Omnibus 3 opgeneem.

Lees gerus waarom Pote en Mia nooit tot rus sal kan kom nie.




No comments:

Post a Comment