Tuesday 6 November 2012

Die geeste van die Amathole

Die geeste van die Amathole is die 9de titel in die Gedaantes en Geraamtes-reeks spookstories maar is nooit as 'n enkel boek gepubliseer nie. Waarom, weet ek nie. Die verhaal was al in 2006  by die uitgewers, maar is eers in 2009 in die Gedaantes en Geraamtes Omnibus 2 opgeneem.


Die geeste van die Amathole speel af in die Oos-Kaap in die skaduwee van die Amathole berge. In Xhosa beteken Amathole 'n kalfie. In vergelyking met die Drakensberge is die Amathole 'n kalfie.

My man moes in 2004 King William's Town in die Oos-Kaap toe gaan vir werk. Ek was bevoorreg om saam met hom te kon gaan. Omdat heksuitruikery en hekseverbanding nog steeds in ons moderne tyd plaasvind en die Oos-Kaapse koerante destyds vol was van 'n jong vrou wat as 'n heks uitgeruik en verbrand is, het ek besluit om dit in die storie te gebruik.

Lees gerus Die geeste van die Amathole om uit te vind wat het met Wikus gebeur toe hy 'n werwelbeentjie opgetel en in sy sak gesteek het.

Wie is die geheimsinnige Xhosa-meisie wat Wikus se aandag probeer trek? En waarom doen sy dit?

Hoe kan Wikus haar help?


Wikus, Karel en Giepie is saam met die res van die o.15A-krieketspan uitgenooi om aan die  krieketkliniek van Dale College in die eerste week van Desember deel te neem. Hulle noem hulself die Parow Sparrows. Dale College is in King William's Town. Die skole wat betrokke is by die denkbeeldige krieketkliniek is: Selbourne College, Stirling High en Bisho High.


Bedags wanneer my man op kantoor was, het ek King William's Town verken as deel van my navorsing. Ek het die plaaslike biblioteek asook die Sendingmuseum besoek waar Eerwaarde Brownlee se Bybel en ander besittings uitgestal word.



Ek het hierdie wildevyenboom afgeneem aangesien dit vir my die spokerige atmosfeer van die storie gepas het. Dit is dan ook by hierdie boom dat Wikus 'n werwelbeentjie uit die grond uitgrawe.




Ek het oa die Amatholemuseum besoek, waar die opgestopte karkas van Huberta, 'n legendariese seekoei staan. Huberta het 1, 000 kilometer van Natal tot in die Oos-Kaap geloop en langs die pad landerye en groentetuine geplunder. In 1930 is sy deur 'n boer van King William's Town doodgeskiet, wat 'n wye reaksie ontlok het. Die oorgroot meerderheid mense was kwaad vir die boer, terwyl ander gesĂȘ het dat sy te veel skade aangerig het.



Een Saterdag het Daan my so 'n bietjie rondgeneem.



Lees gerus Die geeste van die Amathole om uit te vind wat het met Wikus gebeur toe hy 'n werwelbeentjie opgetel en in sy sak gesteek het.

Wie is die geheimsinnige Xhosa-meisie wat Wikus se aandag probeer trek?

No comments:

Post a Comment